Royal National Theatre

Royal National Theatre
Die Royal National Theatre, soos gesien vanaf die nabygeleë Waterloo-brug
Die Royal National Theatre, soos gesien vanaf die nabygeleë Waterloo-brug
Adres Upper Ground, South Bank
Stad en poskode London SE1 9PX
Land Verenigde Koninkryk
Geopen in 1976
Sitplekke Olivier Theatre: 1 150
Lyttelton Theatre: 890
Dorfman Theatre: 450
Argitek Sir Denys Lasdun
Boustyl Brutalisme
Webtuiste nationaltheatre.org.uk

Die Royal National Theatre in Londen, tussen 1962 en 1988 amptelik en ook vandag nog gewoonlik kort National Theatre (NT) genoem,[1] is een van die Verenigde Koninkryk se drie vernaamste instellings vir uitvoerende kunste, naas die Royal Shakespeare Company en die Royal Opera House.

Vanaf sy stigting in 1963 tot 1976 is die toneelgeselskap in die Old Vic-teater in Waterloo Road gevestig. Die laaste opvoering in die Old Vic is in Februarie 1976 aangebied. Later dié jaar het die geselskap na die huidige teatergebou verhuis wat langs die Teemsrivier in die South Bank-buurt van Sentraal-Londen geleë is. Naas opvoerings in die Royal National Theatre is die toneelgeselskap dikwels ook op toer om sy produksies in teaters dwarsoor die Verenigde Koninkryk aan te bied.

Die Royal National Theatre vorm saam met ander konsertsale en museums – die Southbank Centre (met die Royal Festival Hall, die Queen Elizabeth Hall, die Purcell Rooms, Poetry Library en die Hayward Art Gallery vir moderne kuns wat sy deure in 2018 sal heropen),[2] die Museum of the Moving Image en die BFI Southbank (tussen 1951 en 2007 bekend as National Film Theatre) – die fokus van kulturele instellings langs die Teems se suidoewer.

Die teatergebou is deur Sir Denys Lasdun (1914–2001) en sy vennoot Peter Softley in die brutalistiese styl ontwerp en in 1976 amptelik ingewy deur Haar Majesteit koningin Elizabeth II. Dit huisves drie ouditoriums – The Olivier (waarvoor die antieke Griekse teater in Epidauros as voorbeeld gedien het), The Lyttelton en die kleiner Dorfman Theatre. Geriewe vir die publiek sluit daarnaas verskeie kafees en restaurante (waaronder die vlagskiprestaurant House at the National Theatre met sy buitengewone interieurontwerp wat 'n huldeblyk aan die teater se brutalistiese boukuns is), 'n kroeg en 'n boekwinkel in. Sedert 2015 beklee Rufus Norris die pos van teaterdirekteur. Sy voorgangers was Laurence Olivier (1963–1973), Sir Peter Hall (1973–1988), Sir Richard Eyre (1988–1997), Sir Trevor Nunn (1997–2003) en Sir Nicholas Hytner (2003–2015). In 1988 het koningin Elizabeth II koninklike status aan die teater verleen wat hom sedertdien "Royal" mag noem.

  1. "Home page" (in Engels). The National Theatre. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Mei 2020. Besoek op 15 Februarie 2018. Welcome to the National Theatre
  2. "southbanklondon.com: Discover Southbank Centre. Besoek op 15 Februarie 2018". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Januarie 2018. Besoek op 15 Februarie 2018.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search